Verkragting-skandaal: Vavi se klaagster verduidelik wat het gebeur

Zwelinzima Vavi

‘n Vrou wat Zwelinzima Vavi, uitvoerende hoof van Cosatu, glo aangekla het dat hy haar verkrag het, het ‘n ope brief aan die Sunday Times geskryf oor haar ontmoeting met hom.

“Vavi het van die negende verdieping af gekom om my in my kantoor in ‘n stil gedeelte van die gebou te sien. Ek het by my lessenaar gesit en hy het by my kantoor ingekom,” het die vrou geskryf. “Hy is ‘n groot man. Toe ek opstaan het hy my gegryp en my gesoen. Hy het toe die deur gesluit. Ek het nog steeds die rok wat ek daardie dag aangehad het.”
Vavi het Saterdag dokumente aan die media bekend gemaak, insluitend ‘n interne klag wat die vrou ingedien het waarin sy hom van verkragting beskuldig.

Die polisie kan nie bevestig of ‘n klag van verkragting teen Vavi aanhangig gemaak is nie.

Die ma van twee sê sy het Vavi in 2011 by ‘n toonbank by OR Tambo Internasionale Lughawe ontmoet. Sy het hom gehelp om ‘n probleem met sy vlugkaartjie uit te sorteer en is glo aangesê dat die vakbondfederasie “iemand soos sy” kan gebruik. Sy sê Vavi het haar telefoonnommer neergeskryf en later vir haar ‘n pos aangebied.
Sy sê sy is aangestel sonder om deur die behoorlike prosedures te gaan. “Daar was nie eers ‘n onderhoud nie,” het sy gesê.

Vavi het erken dat hy ‘n buite-egtelike verhouding met die vrou aangeknoop het, en gesê dat sy later glo in ‘n brief R2 miljoen vir haar stilswye geëis het.

Hy ontken dat hy haar verkrag het. “Al ons ontmoetings was tussen twee instemmende volwassenes wat duidelik gevoelens vir mekaar gehad het,” het Vavi gesê.
-SAPA

Lees ook:
Vavi afgepers in verkragting-skandaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.