Verligting in die petrolprys

Motoriste kan ‘n sug van verligting slaak ná die aankondiging Vrydag dat petrolprys volgende week Woensdag sal daal.

“Die prys van beide 93- en 95-oktaan petrol sal op 1 Mei met 73c per liter daal, terwyl die groothandelpryse van diesel met 0,05% en 0,005% swawelinhoud onderskeidelik met 55,56c en 56,56c per liter sal daal,” het Paul Joubert, senior navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) gesê.

Volgens Joubert is die dalings in die pryse hoofsaaklik aan die beduidend laer internasionale olie- en petroleumprodukpryse toe te skryf. Die rand het egter tydens April ook marginaal sterker verhandel, wat ʼn paar sent tot die dalings bygedra het.

Verder het die veranderbare leiheffing (slate levy) ook met 6,6c van 21,96c per liter tot 15,36c per liter gedaal.

In Gauteng sal 93-oktaan petrol nou R12,24 per liter kos, terwyl 95-oktaan petrol in Gauteng R12,47 sal kos en R12,10 in die kusgebiede (Durban, Mosselbaai en Kaapstad).

“Die groothandelprys van diesel met 0,05% swawelinhoud sal R11,41 wees in Gauteng en R11,14 aan die kus. Diesel se kleinhandelprys word nie gereguleer nie, en daarom kan dit van vulstasie tot vulstasie verskil,” sê Joubert.

Hoewel hierdie pryse laer is, is dit steeds die derde hoogste nominale prys vir petrol en die vyfde hoogste vir diesel in Suid-Afrika se geskiedenis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.