Verlustig jou (amper) in die iPhone 5!

Dié prentjie wat spottenderwys na Apple se gerekende voorsprong in die slimfoonmark verwys, doen tans die ronde op sosiale media.

Die nuutste foon in die iPhone reeks, die iPhone 5, is van vandag af in nege lande beskikbaar.

iPhone aanhangers in Australie, Kanada, Frankryk, Duitsland, Hong Kong, Japan, Singapoer, die VSA en die Verenigde Koninkryk het die voorreg om in lang rye te staan om die nuutste weergawe van hul gunsteling speelding te koop.

Op 28 September sal gebruikers in nog 22 lande hul hand diep in die sak kan steek vir die produk wat volgens Apple “die grootste ding is wat met die iPhone gebeur het sedert die iPhone”.

iPhone-aanhangers in Suid-Afrika sal ongelukkig nog vir ‘n onbepaalde tyd moet wag, aangesien Apple nog nie aangekondig het wanneer die nuwe iPhone in Suid-Afrika sal arriveer nie.

Hoewel die nuwe iPhone ‘n groter skerm het, is dit 20% ligter en 18% dunner as die iPhone 4s. Die nuwe A6-verwerker is aansienlik vinniger as die A5-verwerker wat deur die iPhone 4s gebruik word.

Met die iPhone 5 het Apple afgewyk van die ou koppelstuk wat vir data-oordrag en die laai van die battery gebruik word. Die nuwe koppelstuk is 80% kleiner, en gebruikers sal dus nie hulle ou toebehore aan die iPhone kan koppel sonder die ekstra omskakelaar nie. Gebruikers is ongelukkig oor die koste van die omskakelaar, wat in die VSA $29 kos.

Vir hardebaard Apple-aanhangers in Suid-Afrika is daar darem ‘n klein troosprys. Die nuwe weergawe van die iPhone en iPad se bedryfstelsel, iOS 6, is reeds beskikbaar, en gebruikers kan dit aflaai en installeer.

Volgens Apple het hulle ongeveer 200 veranderinge aan die bedryfstelsel gemaak, maar die beskikbare funksionaliteit hang af van die weergawe van die iPhone of iPad waarop dit loop. Die nuwe funksionaliteit op iOS 6 sluit die volgende in:

  • ‘n Aantal veranderinge aan Siri, die sagteware wat gebruik kan word om die iPhone deur middel van stemopdragte te beheer en inligting op te soek. Ongelukkig is daar nie veel data vir Suid-Afrika in Siri se databasis nie, en dit is dus meer gemik op gebruikers in die VSA en Europa.
  • Die bedryfstelsel integreer nou met Facebook, wat dit makliker maak om inligting op die sosiale netwerk te deel.
  • Apple maak nie meer staat op Google vir kaarte nie, maar gebruik nou hulle eie data.
  • Stemnavigasie is nou beskikbaar op die iPhone 4s, iPhone 5, iPad 2 en iPad 3.
  • Indien die gebruiker nie ‘n oproep kan beantwoord nie, het hy die opsie om die oproep te ignoreer en ‘n voorafbepaalde SMS te stuur aan die persoon wat skakel.
  • Safari stoor nou ‘n lys van bladsye wat oop is in iCloud, en ‘n mens kan dus van een iOS-toestel na ‘n ander beweeg en maklik die webblaaie wat jy besig was om te lees oproep.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.