Die verhoor van die sogenaamde “Facebook-verkragter” is tot 19 Desember in die landdroshof in Kaapstad uitgestel.
Die 23-jarige Thabo Bester van Eikenhof in Johannesburg het vandag in die hof verskyn op aanklag van die moord op die 26-jarige model Nomfundu Tyulu in Milnerton, twee maande gelede.
“Die saak is tot 19 Desember uitgestel om verdere ondersoek in te stel,” het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag gesê.
Tyulu se liggaam is in September met ‘n steekwond in haar bors in ‘n gastehuis ontdek.
Bester is die “Facebook-verkragter” gedoop, aangesien hy sosiale mediaplatforms gebruik het om vroue dwarsoor die land onder die dekmantel van ‘n internasionale modelagentskap te lok. Na bewering het hy die vroue daarna verkrag en beroof.
Hy is verlede maand tot 50 jaar tronkstraf in ‘n Durbanse hof gevonnis vir die roof en verkragting van twee modelle.
Volgens die polisie het Bester 13 verskillende skuilname op Facebook gebruik, onder andere Thomas Bester. Na bewering het hy ‘n reeks misdade in Kaapstad, Durban en Gauteng gepleeg.
Hy is Dinsdag na Kaapstad gebring en sal op 7 Desember in die landdroshof op ‘n klag van ontvoering verskyn.