Vermeende Facebook-verkragtingsklub ontbloot

Twee van die verdagtes wat met die polisie gepraat het

Twee van die verdagtes wat met die polisie gepraat het

Die polisie het intussen met twee van die verdagtes gepraat. ‘n Skakel na ‘n video met meer inligting hieroor volg onderaan die berig.

Die polisie in Nieu-Seeland het Maandag gesê hy ondersoek ʼn groep jong mans wat aanlyn gespog het dat hulle minderjarige meisies met alkohol bedwelm het en toe groepseks met hulle gehad het.

“Die bewerings deur die groep in Auckland is weersinwekkend, maar gaan moeilik wees om te vervolg sonder bewyse,” het John Key, eerste minister, gesê. “Dit is uiters ontstellende en gruwelike gedrag en hierdie jong mans moet grootword.”

Key sê dit is baie moeilik om hierdie sake te vervolg indien iemand nie ʼn klag indien nie, en dit is ʼn baie moeilike situasie waarin só jong meisie haarself bevind.

Die groep, wat hulleself die “Roast Busters” noem, en moontlik self tieners is, het gespog hoe hulle meisies, so jonk as 13 jaar oud, deur sosiale media ontmoet en dan seks met hulle gehad het nadat hulle alkohol ingekry het, het TV3 berig. Volgens die televisiestasie het die mans hul vermeende slagoffers se name in video’s, wat op ʼn Facebook-blad gelaai is, bekend gemaak. Die video’s is oor die naweek afgehaal ná mediaberigte.

Een anonieme minderjarige meisie het aan die televisiestasie gesê die groep het haar mishandel nadat hulle haar soveel alkohol ingegee het dat sy haar bewussyn verloor het. “Mens kan sê ek is verkrag. In een stadium het drie seuns my verkrag.”

Key sê sy regering gaan aanlynboelie-wette instel wat die polisie in staat sal stel om internet-gebruikers te vervolg wat hul slagoffers aanlyn seksueel verneder. Dié wysiging is voorgestel nadat ʼn ondersoek bevind het dat bestaande wette nie voldoende beskerming bied teen aanlyn-teistering nie. Dit kan maklik wyd versprei word op die internet en ʼn verwoestende impak hê op slagoffers, veral tieners.

Menseregtegroepe het gesê indien die bewerings, wat deur die groep gemaak is, waar is, moet die lede met seksuele aanranding van minderjariges aangekla word, en nie net van aanlynoortredings beskuldig word nie. “Indien die groep ʼn “verkragtingsklub” is, moet die regstelsel dit dienooreenkomstig hanteer,” het Jan Logie, Greens-LP en voormalige raadslid vir seksuele mishandeling, gesê. “Indien jy bewyse soek dat daar iets ernstig verkeerd is hoe daar oor verkragting gepraat en dit vervolg word, kan mens maar net kyk na die openbaarmaking deur die Roast Busters-verkragtingsklub,” het sy gesê.

Die polisie sê hy beskou die saak in ʼn ernstige lig en ondersoek die groep al vir twee jaar lank. Die groep se Facebook-blad word ook dopgehou. Die saak het egter gesloer toe slagoffers te getraumatiseerd was om te getuig oor dit wat met hulle gebeur het.

“Ons hoop dat iemand braaf genoeg sal wees om ʼn amptelike klag by ons in te dien,” het Bruce Scott, speurderinspekteur, aan Radio New Zealand gesê. “Sodra ʼn slagoffer ʼn klag indien hoop ons dat ander sal sien sy was braaf genoeg en dat hulle dan ook na vore sal kom.”

Die Facebook-blad is intussen gesluit.

Klik hier om die video te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.