Vermeende renostersindikaat-leier vas op OR Tambo

Foto: www.rhinoconservation.org

ʼn Thaise burger, wat moontlik lid is van ʼn internasionale renosterstropery-sindikaat, is Vrydagoggend op die OR Tambo internasionale lughawe in hegtenis geneem.

ʼn Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Adrian Lackay, sê die man is in hegtenis geneem kort nadat hy op OR Tambo geland het van Thailand af. Hy sê die man is in aanhouding en word deur die Valke en doeane-amptenare ondervra. Die man is vroeër in Suid-Afrika in hegtenis geneem en in ʼn hof skuldig bevind aan die smokkel van diere-produkte. Hy het ʼn boete betaal en die land verlaat. Die verdagte word verbind met die beweerde meesterbrein van ʼn internasionale renosterstropery-sindikaat, Chumlong Lemtongthai, wat vroeër die week in die Kempton Park landdroshof verskyn het. Lemtongthai is in Junie in hegtenis geneem en staan op meer as 26 klagte tereg. Lemtongthai word daarvan beskuldig dat hy renoster-jagpermitte onder valse voorwendsels bekom het. Lemtonghai het beweer die permitte is vir die “trofeejag” van renosters. Die sindikaat het glo jong Thaise vroue, wat as ontkleedansers na die land gesmokkel is, gebruik om as trofeejagters te poseer. Die renosters se horings is dan die land uitgesmokkel waar dit vir nagenoeg R65 000/kg verkoop is op die Asiese swartmark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.