Vermeende renosterstroper doodgeskiet in wildtuin

ʼn Vermeende renosterstroper is Sondag in die Krugerwildtuin doodgeskiet en nog een is gewond.

Kapt. Paul Ramoloka, woordvoerder vir die Valke, sê vier vermeende stropers is omstreeks 14:00 Sondagmiddag naby die Sabi Sand-wildreservaat in Skukuza gewaar. “Toe ons span die mans gekonfronteer het, het hulle op die polisie losgebrand en ons het teruggeskiet. Een van die vermeende stropers is doodgeskiet, nog een is gewond en in die hospitaal opgeneem en die ander twee is in hegtenis geneem.” Ramoloka sê die polisie het op ʼn jaggeweer, byl, saag en motor beslag gelê. Hy sê die drie mans sal van poging tot moord en die besit van gevaarlike wapens aangekla word. “Ons probeer nog om die verdagtes te verbind aan die renosterstropery wat die afgelope week in die Krugerwildtuin plaasgevind het.” Meer as 528 renosters is reeds vanjaar vir hul horings doodgemaak waarvan 320 in die Krugerwildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ignatius ·

Ek wil die Valke gelukwens met hulle optrede teen die renosterstropers.Geen genade moet teen die stropers betoon word nie.As die Valke net die mense wat agter die stropery sit kan vastrek sal dit al ‘n groot deurbraak wees want dit is hulle wat ander mense omkoop om hulle vuil werk te doen.

Paul Joubert ·

As die Valke daardie ouens vastrek, styg die prys vir renosterhoring weens die aanbod wat inkrimp, wat net ‘n sterker trekkrag is vir nuwe “kingpins” om renosters te laat stroop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.