ʼn Vermeende renosterstroper is Vrydag by ʼn wildsplaas naby Modimolle (Nylstroom), Limpopo, doodgeskiet.
Volgens brigadier Hangwani Mulaudzi, ʼn polisiewoordvoerder, het die voorval by die Matswani-wildsplaas gebeur.
“Die polisie is ontbied nadat drie verdagtes gewaar is toe hulle die perseel betree het,” het Mulaudzi gesê.
“Die polisie was vinnig op die toneel en het hulle konfronteer. Die verdagtes het op die polisiebeamptes begin skiet. Die beamptes het teruggeskiet en ʼn 39-jarige man noodlottig gewond. Die ander twee mans het probeer vlug, maar die polisie was kort op hul hakke en het hulle in hegtenis geneem,” het hy bygevoeg.
Die polisie het op ʼn jaggeweer en ʼn byl beslag gelê. Die geweer word verbind met ʼn rooftog wat in 2009 in Rustenburg plaasgevind het.
Die twee verdagtes moet Maandag in die Modimolle-landdroshof verskyn op aanklagtes van renosterstropery en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.