‘n Vermeende renosterstroper is Donderdag tydens ‘n skietgeveg in die Kruger Nasionale Park doodgeskiet, het SANParke gesê.
‘n Ondersoek deur SANPark-bewaarders, die polisie en die weermag ná ‘n renosterkoei en haar kalf vroeër in die dag doodgemaak is, het tot drie mans gelei, het Reynold Thakhuli woordvoerder, in ‘n verklaring gesê. “‘n Skietgeveg het uitgebreek en een verdagte is noodlottig gewond en twee ander is in hegtenis geneem.” Vier horings, ‘n jaggeweer en ‘n byl is in die mans se besit gevind.
Sedert die begin van dié jaar is 130 renosters reeds in die Kruger Nasionale Park gestroop. Paul Daphne, nog een van SANParke se woordvoerders, doen ‘n beroep op die publiek om enige inligting wat tot die inhegtenisnemings van enige stropers kan lei, aan te meld.
“Dit is jammer dat ons nie die renosterkoei en haar kalf betyds kon red nie, maar ons is oortuig dat die verskerpte maatreëls wat ons tans in plek het, druk op die stropers plaas.”
Thakhuli sê die twee vermeende stropers sal binnekort in die hof verskyn.