Vermeende renosterstroper in wildtuin doodgeskiet

Foto: www.rhinoconservation.org

‘n Vermeende renosterstroper is doodgeskiet, twee ander gewond en een in hegtenis geneem tydens ʼn skietgeveg met wildbewaarders in die Krugerwildtuin.

ʼn Woordvoerder van die Valke, McIntosh Polela, sê die wildbewaarders het gesien hoe vier mans ʼn rivier in die wildtuin oorsteek en het hulle beveel om te stop. Die mans het glo op die wildbewaarders begin skiet. Die wildbewaarders het teruggevuur en een van die vermeende stropers is op die toneel doodgeskiet. Een van die mans is in die arm en been gewond terwyl ʼn ander een in die arm en maag gewond is. Hulle word tans in die hospitaal behandel onder polisiebewaking. Die vierde man is in hegtenis geneem. ʼn Jaggeweer en verskeie messe, wat glo gebruik is om die horings van renosters af te sny, is in die mans se besit gevind. Die man wat in hegtenis geneem is, het glo reeds erken dat hy verlede week drie renosters in die wildtuin doodgemaak het. Die wildbewaarders het volgens berigte gister op twee witrenosterkarkasse afgekom naby Pretoriuskop. Die karkasse se horings is nie verwyder nie en die wildbewaarders het besluit om in die gebied te wag indien die stropers terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.