Vermeende renosterstropers gevang

Drie mans wat daarvan verdink word dat hulle aan renosterstropery by die Sandveld Natuurreservaat naby Hoopstad in die Vrystaat skuldig is, is in hegtenis geneem, het ʼn beampte Donderdag gesê.

“Al drie verdagtes word van die onwettige besit van beheerde medisyne aangekla,” het Kgotso Tau, woordvoerder vir omgewingsake, gesê. Volgens Tau het twee van die mans die reservaat Dinsdag binnegegaan en by ʼn kampplek oorgeslaap. Die derde man het Woensdagoggend by hulle aangesluit, en al drie het toe op ʼn wildrit gegaan. Die mans is Woensdag in hegtenis geneem toe hulle die reservaat omstreeks 18:15 wou verlaat. Tydens ʼn roetine-ondersoek by die hek is ʼn geweer en skedulemedisyne in hul besit opgespoor. “Hulle kon nie ʼn bewys lewer dat hulle toestemming het om dié medisyne by hulle te hê nie.” Tau het gesê die polisie sal verdere ondersoek instel. Twee renosters is tydens Augustus by die Sandveld Natuurreservaat doodgemaak. “Ons hoop dat hierdie voorval ʼn sterk boodskap aan almal wat hulself aan renosterstropery en ander omgewingsmisdade skuldig maak, sal stuur.” Die mans sal Vrydag in die landdroshof in Hoopstad verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.