Vermeende rowers aangeval

Inwoners van Soweto het oor die naweek glo twee mans aangerand wat vermoedelik probeer het om ʼn voetganger te beroof.

“ʼn 37-jarige man het Sondagaand huis toe gestap toe hy naby die Inhlazana-treinstasie in Jabulani deur drie mans aangeval is,” het ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, Maandag gesê. Die mans het hom glo met ʼn vuurwapen gedreig en hom oor die kop geslaan. “Hy het op die grond geval en om hulp geroep. Mense wat naby die stasie bly het die hulpkrete gehoor en hom te hulp gesnel.”

Die man met die vuurwapen het ontsnap terwyl die inwoners sy twee makkers aangerand het. Die polisie is ontbied en die ernstig beseerde verdagtes is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem waar hulle onder polisiebewaking behandel word.

Makhubela doen ʼn beroep op die gemeenskap om nie die reg in eie hande te neem nie. “Ons moedig burgerlike inhegtenisnemings aan, maar veroordeel dit ten sterkste as iemand die gereg in eie hande neem. As ʼn verdagte aangekeer is, moet hulle sonder beserings na die polisie geneem word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.