Vermeende rowers op Potch-pad ingewag

ʼn Vermeende rower is Woensdag in Potchefstroom, Noordwes, in hegtenis geneem ná ʼn wilde jaagtog met die polisie in ʼn botsing geëindig het.

Sersant Kelebogile Moiloa, ʼn polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê twee verdagtes het in die vroeë oggendure ʼn paartjie by hul huis in Klerksdorp aangehou. “Die paartjie is met toue vasgebind terwyl die verdagtes hulle beroof het,” het Moiloa gesê.

Die man het homself probeer loswikkel waarop een van die verdagtes hom met ʼn mes in sy linkerarm gesteek het. Die rowers het na bewering met drie plasma-televisies, twee BlackBerry-selfone, juwele en ʼn onbekende bedrag kontant weggekom. Die verdagtes het in die paartjie se Colt-bakkie van die toneel gevlug.

“Die paartjie het die polisie oor die rooftog ingelig. Die hoofwegpatrollie het dadelik op die klagte reageer en vir die voertuig begin uitkyk. Daar is vermoed dat die verdagtes na Johannesburg wou vlug en die eenheid het hulle in Potchefstroom op die N12 ingewag ,” het Moiloa gesê.

Toe die verdagtes die polisie sien, het hulle op die beamptes losgebrand. Die polisie het teruggeskiet en ʼn jaagtog het gevolg. “In die proses het hulle [die verdagtes] aan die verkeerde kant van die pad beland, teen ʼn trok gebots en tot stilstand gekom. Die twee het verder te voet gevlug. Na ʼn soektog is ʼn 27-jarige man in ʼn inwoner se erf gekry waar hy langs ʼn swembad probeer wegkruip het,” het Moiloa bygevoeg.

Die polisie is nog op soek na die tweede verdagte. Die bakkie, televisies, juwele en een selfoon is teruggekry. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en kaping.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.