Vermeende selfoondief verdrink

Die Johannesburgse Dieretuinmeer

‘n Vermeende selfoondief het die afgelope naweek in die Johannesburgse Dieretuinmeer verdrink toe hy probeer weghardloop het.

“Hy was moontlik ‘n sekuriteitswag by die Dieretuinmeer, maar ons is nie hiervan seker nie,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie in Gauteng gesê. “Ons vermoed ook dat hy onder die invloed van alkohol was, maar ons kan dit in dié stadium nog nie bevestig nie,” het hy bygevoeg.

Die man het glo ‘n vrou Saterdag naby die parkeerarea gedreig en haar selfoon gesteel. Die vrou het ‘n omganger om hulp gevra en hulle het die man opgespoor waar hy besig was om op haar telefoon te praat. “Toe hy hulle sien aankom, het hy geskrik, die foon laat val en in die meer ingespring en verdwyn,” het Dlamini gesê.

Die saak is by die polisie in Parktown aangegee en duikers het ‘n soektog van stapel gestuur. Sy liggaam is Sondag opgespoor. Die man, wat glo tussen 30 en 40 jaar oud was, is nog nie uitgeken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.