Vermeende stroper aangekeer

Argieffoto

ʼn Man is in hegtenis geneem in verband met renosterstropery naby Mtubatuba in KwaZulu-Natal, het Ezemvelo KZN Wildlife Dinsdag gesê.

“Die man is Sondag aangekeer ná ʼn jaagtog en skietery met wildbewaarders,” het Musa Mntambo, woordvoerder vir Ezemvelo, gesê. “Bewaarders wat op patrollie was, het skote gehoor en twee mans in ʼn bakkie agterna gesit. ʼn Jaagtog van ongeveer 3km tussen die wildbewaarders en insittendes in ʼn Bantam-bakkie het gevolg. Hulle het op mekaar geskiet.”

Die verdagtes het glo uit die bakkie gespring en te voet gevlug. Een van die verdagtes wat beseer is, is aangekeer. Sy medepligtige het ontsnap. Die man van Kwa-Hlabisa in Mpembeni is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem met ʼn skietwond in sy maag. Hy sal van poging tot moord aangekla word sodra hy ontslaan word.

Meshack Radebe, LUR vir landbou en omgewingsake in die provinsie, het gesê die stryd teen renosterstropery sou nie suksesvol gewees het sonder die bewaarders se toewyding nie.

Altesaam 53 renosters is sedert die begin van die jaar in KwaZulu-Natal vir hul horings gestroop. Tien van die renosters is in privaatreservate en gemeenskapsbewaringsgebiede gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.