Vermeende transito-rower doodgeskiet

ʼn Vermeende transito-rower is Woensdag doodgeskiet en twee medepligtiges is gewond nadat hulle Woensdag ʼn geldwa by ʼn bank wou beroof.

Kolonel Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê vier gewapende mans wou die geldwa beroof nadat veiligheidswagte geld by ʼn bank in Empangeni, KwaZulu-Natal, omstreeks 11:30 gaan oplaai het.

“Die mans het op die veiligheidswagte geskiet en een van die wagte gewond. Die wagte het teruggeskiet. Een verdagte is noodlottig gewond, en die ander drie mans het in ʼn wegkomvoertuig gevlug. Die geld en afgestorwe medepligtige is agter gelaat,” het Naicker gesê.

Beamptes van die Ntambana-polisie en die Empangeni honde-eenheid het op die voorval reageer en die wegkomvoertuig opgespoor. ʼn Hoëspoed-jaagtog en skietery het gevolg en ʼn verdere twee verdagtes is gewond. Die twee gewondes is in hegtenis geneem. Die ander verdagte het ontsnap,” het hy gesê. Die polisie het beslag gelê op ‘n AK47 en twee 9mm pistole.

Die verdagtes, onderskeidelik 29 en 37 jaar oud, gaan binnekort in die hof verskyn. Hulle word aangekla van roof, moord, poging tot moord en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

ʼn Soektog na die vierde verdagte duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.