Vermeende verregses beweer aanklagte teen hulle is vals

Die foto verskyn op Juan van Zyl se Facebook-blad.

Drie vermeende verregses het Maandag in die Naboomspruit landdroshof verskyn op aanklagte van brandstigting en die besit van gevaarlike wapens.

Beeld berig dat Juan van Zyl (48), Gunter Jurgens Kotze (31) en Thomas James Stickling (49) aan die hof gesê het dat 99% van die aanklagte teen hulle nie waar is nie. Die drie beskuldigdes in Vrydagoggend in hegtenis geneem op ʼn plaas buite die dorp nadat hulle glo twee tente aan die brand gesteek het. ʼn Opleidingskool vir plaaswagte word op die plaas bedryf. Die drie beskuldigdes is glo vroeër by die skool weggewys en het toe glo Donderdagaand teruggekeer waarna ʼn rusie tussen hulle en ander inwoners op die plaas uitgebreek het. Die polisie het beslag gelê op plofstof, handgemaakte swaarde en weermaguniforms. Die polisie sê die mans was vermoedelik lede van ʼn godsdienstige kultus en het glo beplan om ʼn NG of Gereformeerde Kerk aan te val gedurende ʼn diens. Die saak is tot Maandag uitgestel wanneer die beskuldigdes om borgtog sal aansoek doen.

Gunther Jurgens Kotze. Foto: Facebook

Kotze, wat bekend staan as die “Boere-Viking”, is vroeër die jaar met twee ander sake verbind. Hy was ʼn beskuldigde in die saak waarin oudkmt. Willem Ratte en nege-medebeskuldigdes aanvanklik van terrorisme verdink is. Hulle is in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem. Die saak teen Ratte en van die ander beskuldigdes is egter later teruggetrek. Terwyl Kotze ʼn beskuldigde in die saak was, is hy ook aangekla van opsetlike saakbeskadiging nadat hy die gedenknaald van die Balmoral-konsentrasiekamp-monument, naby Witbank, stukkend gekap het. Hy het ʼn opgeskorte vonnis ontvang.

Lees die volledige berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.