Vermeende verregses wat glo kerke wou aanval in hof

Die drie vermeende verregses wat op ‘n plaas buite Naboomspruit in Limpopo in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die drie mans, wat glo beplan het om kerke in Limpopo aan te val, is Vrydag in hegtenis geneem nadat die polisie op ʼn saak van brandstigting reageer het. Die polisie sê hulle het agtergekom dat die plaas gebruik word as ʼn opleidingsentrum vir veiligheidswagte wat dan op plase ontplooi is. ʼn Polisiewoordvoerder, brig. Hangwani Mulaudzi, sê die drie mans het vroeër opleiding op die plaas ontvang maar is uitgeskop nadat hulle glo probleme veroorsaak het. Hulle het glo Donderdagaand na die plaas teruggekeer waarna ʼn rusie tussen hulle en ander inwoners op die plaas ontstaan het. Hulle het toe glo twee tente aan die brand gesteek. Die polisie het beslag gelê op plofstof, handgemaakte swaarde en weermaguniforms. Daar is ook beslag gelê op dokumente waarin besonderhede oor sataniese rituele uitgespel word. Die polisie sê die mans was vermoedelik lede van ʼn godsdienstige kultus en het glo beplan om ʼn NG of Gereformeerde Kerk aan te val gedurende ʼn diens. Rapport het die mans geidentifiseer as Juan “Snorre” van Zyl (48), Tommy Oosthuizen (50) en Gunther Jurgens Kotze (31).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.