Verminkte liggame van agt familielede gevind

crime-scene-tape-320x191Plaaslike owerhede van Meksiko het op die erg verminkte liggame van agt familielede, wat onlangs ontvoer is, afgekom.

Die familielede is Donderdag in die dorp Teloloapan deur ʼn groep mans met vuurwapens ontvoer. Teloloapan is suid in die Guerrero-staat. “Die slagoffers is tussen 18 en 40 jaar oud,” het die Guerrero regering Maandag in ʼn verklaring gesê. “Die verminkte liggame is Vrydag in plastieksakke, wat langs ʼn hoofweg gestort is, opgespoor. Die oorskot toon tekens van marteling en koeëlwonde.”

Volgens ʼn ondersoekbeampte word drie ander lede van dieselfde familie, waaronder ʼn agtjarige meisie, steeds vermis nadat hulle ontvoer is.

Hy sê die polisie kon die liggame, wat langs die hoofweg opgespoor is, steeds uitken al was dit in stukke opgesny.

Guerrero is een van Meksiko se armoedigste state en ook ʼn groot produsent van dwelms, veral papawerplante wat gebruik word om heroïen te maak. Die staat word oorval met dwelmverwante misdrywe en ondersoekbeamptes is nog nie seker wie vir die gruweldaad verantwoordelik is nie.

– SAPA-AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.