Vermiste BFN-vrou se lyk gevind

Die swanger vrou wat sowat ʼn maand gelede uit haar woonstel in Bloemfontein verdwyn het, is naby die dorp dood aangetref, het die polisie Dinsdag gesê.

Celeste Fraser-Carson (28) is naby die Meadowspad in die Bloemspruit-gebied begrawe, het woordvoerder kaptein Harry Nagel gesê. Die ontdekking is gemaak nadat ʼn 30-jarige man Maandagaand in Graaff-Reinet in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Sedert die inhegtenisname het die polisie aanhou soek totdat haar liggaam opgespoor is. Die man het die polisie na Naval Hill geneem en toe die plek uitgewys waar Fraser-Carson uiteindelik opgespoor is. “Ons vermoed dat sy op Naval Hill vermoor is,” het Nagel gesê. ʼn Nadoodse ondersoek sal die oorsaak van haar dood bevestig en ook aandui hoe lank sy begrawe is. Volgens Nagel sal die man Donderdag in die Bloemfonteinse landdroshof op aanklag van moord en dat hy uit aanhouding ontsnap het, verskyn.

Fraser-Carson se verdwyning het baie aandag in die plaaslike media ontvang. Foto’s van die vermiste ma wat haar tweede kind verwag, is oral in die stad, insluitend die plaaslike landdroshof opgeplak. Luidens mediaberigte het Fraser-Carson, wat by ʼn plaaslike hospitaal gewerk het, op 8 Februarie buite haar woonstel in ʼn motor geklim en is sy nie weer gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.