Vermiste dogtertjie veilig by die huis

Pura Pahlo is veilig opgespoor.

Pura Pahlo, die 7-jarige dogtertjie wat Woensdagoggend voor Laerskool Waterkloof in Pretoria-Oos vermis geraak het, is veilig opgespoor.

“Die polisie het vinnig opgetree en vier Zimbabwiërs op die toneel in hegtenis geneem wat glo Pura se biologiese pa gehelp het om haar te ontvoer,” het ao Annabelle Middleton, woordvoerder van die Brooklyn-polisiestasie, gesê. “Die mans het haar uit haar pleegma, Kim Andreou, se motor gepluk toe sy haar by die skool afgelaai het.”

Die polisie het Donderdagoggend ʼn wenk ontvang dat die vermiste dogter en haar biologiese pa, Ray Pahlo (42) moontlik in ʼn gastehuis in Lydenburg, Mpumalanga, ingeboek het. “Die plaaslike polisie in Lydenburg is dadelik in kennis gestel en hulle kon die identiteit van die dogtertjie en die verdagte bevestig,” het Middleton gesê. “Pahlo is deur ʼn wit vrou in haar vroeë dertigs, wat met ʼn Amerikaanse aksent praat, vergesel.”

Pahlo en die vrou is in hegtenis geneem en deur die polisie in Lydenburg aangehou. Pura se pleegouers, Evan en Kim Andreou, is in kennis gestel en reëlings is getref dat hulle haar kan oplaai. “Pura is ongedeerd, maar getraumatiseerd deur die voorval,” het Middleton bygevoeg.

Die verdagtes word na die polisiestasie in Brooklyn gebring en hulle sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn. Die vier Zimbabwiese mans wat Woensdag in hegtenis geneem is, sal Vrydag in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Evan Andreou, Pura se pleegpa, het gesê dat Pura gereelde kontak met haar biologies ma het. “Sy is by ons met haar ma se ondersteuning. Ray probeer egter elke jaar om haar van ons af weg te neem, maar elke jaar daag hy met ʼn prokureur op om haar te vat. Ek dink hy het uiteindelik besef dat hy haar nie wettiglik van ons af sal kan wegneem nie en dit is hoekom hy haar ontvoer het,” het Andreou gesê.

“Die SA Polisiediens (SAPD) skryf die suksesvolle en gelukkige reünie van Pura en haar pleegouers toe aan doeltreffende kommunikasie. Die eienaar van die gastehuis het die inligting en foto’s van Pura op die internet gesien en daarop reageer,” het Middleton gesê.

Lees ook:
Meisie (7) voor Pretoria-skool ontvoer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.