Paule-Henry Botha (43), wat vroeër die maand as vermis aangemeld is, is opgespoor en veilig.
Maroela Media het vroeër berig dat Botha, van in Observatory in Kaapstad, sedert 11 Oktober vermis word nadat hy die oggend gaan draf het. Botha se huismaat, Jana Cloete (29), het die oggend saam met hom na ʼn treinstasie toe gery. “Hy het sy drafklere aangehad – ‘n rooi T-hemp, swart kortbroek en rooi tekkies. Dit was die laaste keer wat ek hom gesien het,” het Cloete gesê.
Cloete het Maandag op Facebook gesê: “Goeie nuus! Ek het met Paule-Henry oor die foon gepraat en hy is ‘ok’! Daar is nog nie duidelikheid oor wat gebeur het nie. Hy is baie emosioneel, maar in ʼn plek van veiligheid.”
Cloete het almal bedank vir hul ondersteuning en gebede. “Mense het my op ʼn baie goeie manier verras hierdie afgelope week en ʼn half wat soos ’n ewigheid van hel gevoel het,” het sy bygevoeg.