Die trofee is aan dr. Ian Player (86) oorhandig. Player was saam met vyf ander mense die eerste deelnemers aan die Dusi-kanowedvaart in 1951. Player, ʼn bekende natuurbewaarder, was egter die enigste roeier wat die wedvaart voltooi het. Player was verheug om die trofee te ontvang. Die trofee is in 1953 deur sy pa en sy broer, die legendariese gholfspeler Gary Player, vir die wedvaart geskenk. “Dit is ʼn wonderlike geleentheid,” het Player gesê nadat die trofee aan hom oorhandig is. “Daar is soveel geskiedenis wat in die trofee toegevou is en soveel wonderlike persoonlikhede.” Die trofee het in 1972 geheimsinnig verdwyn. Die wedvaartkomitee het hierna ʼn nuwe trofee aangekoop wat sedertdien elke jaar aan die wenner van die wedvaart oorhandig word.
Die oorspronklike trofee is in ʼn donker hoekie van ʼn stoorkamer gevind gedurende die onlangse trek na die opgeknapte kantore van die Natal Kanoklub in Kampsdrif in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal. Die wedvaartkomitee sê hulle sal die oorspronklike trofee laat skoonmaak en die name van al die wenners sedert 1972 daarop laat transkribeer. Brett Austen-Smith, hoof van die wedvaartkomitee, sê die trofee is in 1972 deur die Van Riet-broers gewen waarna dit spoorloos verdwyn het. “Ons was eintlik besig om vir ʼn groter en meer gepaste trofee vir die vroue wenner te soek toe ons op die oorspronklike trofee afgekom het.” Die Dusi-kanowedvaart vir 2014 begin op 13 Februarie in Pietermaritzburg en eindig op 15 Februarie in Durban.
Sies vir veertig jaar is die donker hoekie nie afgestof nie.