ʼn Egpaar en vier kinders is veilig opgespoor nadat hulle vir bykans twee dae lank in Nevada, Amerika, vermis was. Die temperatuur was soms kouer as -26 grade Celsius.
Sowat 200 vrywilligers het aan die soektog deelgeneem vir die familie wat Sondag verdwyn het, berig CNN. Chris Montes en sy span vrywilligers het eers voetspore in die sneeu gesien wat soos ʼn kind sʼn gelyk het, en daarna het hulle ʼn voertuig se spoor gevolg tot waar die Jeep-voertuig omgeslaan het.
“Dit is ʼn wonderwerk,” het Richard Machado, Pershing County Sheriff, gesê.
Al ses lede van die familie was Dinsdag veilig en gemaklik in die hospitaal. Niemand het vriesbrand opgedoen nie. “Dit is beter as wat ek ooit kon droom,” het dr. Douglas Vacek gesê. “Ek was baie bekommerd oor die koue wat ons die afgelope paar aande beleef het.”
Die groep het Sondag in die sneeu gaan speel naby hul dorpie, Lovelock, sowat 160 km noordoos van Reno.
“Hulle het bymekaar gebly en dit het hulle gehelp om aan die lewe te bly,” het Paul Burke, organiseerder vir die soek- en reddingspan gesê. “Hulle was baie kreatief. Hulle het klippe en ander goed warm gemaak. Maar die belangrikste is dat hulle bymekaar gebly het.”
James Glanton (34), sy meisie Christina McIntee (25), hul twee kinders Evan en Chloe Glanton, en Shelby Fitzpatrick en Tate McIntee, susterskinders van Christina, het Sondagaand vermis geraak. Die kinders is van 3 tot 10 jaar oud.
Montes, ʼn ou vriend van James, het gesê hy weet nie of die vrywilligers of sy vriende die grootste verligting getoon het nie. Volgens Montes het die gesin se Jeep-voertuig omgeslaan en kon hulle nie verder ry nie. Hulle het in die omgeslane voertuig gebly en die spaarwiel aan die brand gesteek om warm te bly.
Die temperatuur was Maandagoggend -26 grade Celsius en Dinsdagoggend -23 grade Celsius.
Hulle is baie baie baie gelukkig.