Die soektog na ‘n Poolse entomoloog wat op Mariepskop naby Hoedspruit, Mpumalanga, vermis geraak het, duur voort.
“Die polisie van Limpopo en Mpumalanga, insluitend ‘n honde- en berede-eenheid soek al sedert Sondag na dr. Pawel Jaloszynski,” het kol. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga gesê. ‘n Helikopter neem ook aan die soektog deel.
Jaloszynski (37), ‘n entomoloog van die Universiteit van Wroclaw in Pole, en drie kollegas het op die berg navorsing op insekte gedoen toe hy vermis geraak het. “Ons dek ‘n groot gebied en moes die soektog sedert Sondag uitbrei,” het Hlathi gesê. Jaloszynski het laat Sondagmiddag ‘n SMS aan sy kollegas gestuur om te sê dat hy verdwaal het. Hulle het sedertdien nog nie van hom gehoor nie.
Mariepskop is, teen 1 945m bo seevlak, die hoogste piek in die noordelike Drakensberg-platorand.