Vermiste gimnasiuminstrukteur dood gevind

Craig Hall

Craig Hall, ʼn 21-jarige gimnasiuminstrukteur van Ballito wat sedert Donderdag vermis word, se liggaam is oor die naweek opgespoor.

Hall se liggaam is Saterdag met verskeie steekwonde naby die Old Greenfield-vulstasie, oorkant die gimnasium waar hy gewerk het, gevind. Roselyn Bega, sy ma, vergelyk die omstandighede rondom sy moord met ʼn toneel uit ʼn rolprent, het The Mercury Dinsdag berig.

Na wat verneem word wou Hall ʼn voertuig ter waarde van R400 000 van ʼn privaatverkoper koop. Hy het ʼn deposito van R45 000 aan die verkoper oorbetaal, maar die transaksie het daarna glo skeef geloop en Hall het sy deposito teruggeëis. Die gesin weet nie wie die verkoper is nie.

Hall het Woensdag aan ʼn kollega by die gimnasium gesê hy gaan die geld terugeis en hy sou haar bel as daar probleme opduik. Sy kollega en familie het hom Woensdag vir die laaste keer gesien.

Die polisie het bevestig dat sy liggaam Saterdag omstreeks 14:00 naby die vulstasie gekry is. ʼn Saak van moord is aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.