Vermiste JHB-mynwerkers dood aangetref

mynAgt van die nege vermiste mynwerkers by Harmony Gold se Doornkop-myn, wes van Johannesburg, is dood aangetref nadat hulle ná ʼn brand Dinsdagaand verdwyn het.

“Een werker word steeds vermis teen die tyd wat dié verklaring uitgereik word,” het die departement van minerale hulpbronne Donderdag omstreeks 07:00 gesê.

Die hoofmyninspekteur het gesê sodra die laaste mynwerker gevind is, sal die soek-en reddingspan seker maak dat die brand, wat steeds woed, geblus word. ʼn Ondersoek sal dan van stapel gestuur word om die oorsaak te bepaal, waarna die departement sal bepaal wat die volgende stappe sal wees.

Die brand het Dinsdag omstreeks 18:00 in die 192e vlak uitgebreek. Die oorsaak is nog onbekend.

Agtien mense was aanvanklik vermis. Een mynwerker kon daarin slaag om te ontsnap en kon aan reddingspanne inligting verskaf oor waar van die vermiste mynwerkers was. Agt mynwerkers kon na ʼn spesiaal-ingerigte toevlugsoord vlug en hulle is Woensdagmiddag gered.

Die myn het tydens die agt mans se reddingspoging gesê hulle weet nog nie waar die ander nege mynwerkers is nie. Die reddingsproses is verhinder deur rook, stof en los grond.

Alle bedrywighede by die myn, behalwe noodsaaklike dienste, is opgeskort.

Lees ook:
Agt mynwerkers gered ná brand by Harmony-goudmyn

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.