Vermiste karwag steeds soek

Die organisasie Stop Misdaad SA (SMSA) gaan alles in hul vermoë doen om Gidius Seeman Joseph Gertenbach op te spoor om sodoende berusting aan ʼn bekommerde ma te bring. Gertenbach, ʼn 40-jarige inwoner en voormalige karwag van Meyerton, word sedert 22 Desember 2011 vermis.

Maroela Media het vroeër berig sy ouers het die laaste keer van hom gehoor toe hy hulle geskakel en meegedeel het dat hy werk gekry het op ‘n plaas tussen Nelspruit en Witrivier en dat hy voor Nelspruit se poskantoor wag om deur iemand opgelaai te word. Hy het onderneem om hulle weer te skakel sodra hy daar aangeland het, maar dit het nooit gebeur nie.

Volgens Elize Viljoen van SMSA het nuwe inligting aan die lig gekom wat mag help om hom uit te ken. “Ons het vasgestel dat hy in albei sy voete staalplate het. Hy dra ook ʼn nommer 13 skoen,” het Viljoen aan Maroela Media gesê. Sy sê verder hy is moontlik in die tydperk wat hy vermis is, in Nelspruit as ʼn karwag opgemerk asook in Benoni. “Maar daar loop alle leidrade dood en ons kon nog nie bevestiging kry of hy wel daar gewaar is nie. Ons het verskeie mense in albei gebiede wat ondersoek gaan instel en hom fisies gaan soek het, maar alle pogings tot dusver was onsuksesvol,” het Viljoen gesê.

Gertenbach is lank en skraal en weeg sowat 50kg. Hy het bruin hare en blou oë. Hy het ʼn merk aan sy linkervoorarm waar hy 10 jaar gelede met ʼn mes gesteek is. Hy het ook ʼn merk op sy regterslaap.

Enigiemand met inligting kan Viljoen skakel by 082 296 1727. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.