Die liggaam van Michael Anthony Dickson (59) is laat Maandag op die Magaliesberg in Hartbeespoort, Noordwes, gekry, nadat hy sedert 4 September vermis was.
Dickson, wat kroniese diabetes gehad het, is vir die laaste keer gesien toe hy met die kabelkarretjie teen die berg op is. Hy is deur ʼn familielid daar afgelaai en het nooit teruggekeer nie. Sedertdien het reddingspanne die berg gefynkam en het hulle Maandagaand op sy liggaam afgekom.
Kaptein Wilson Shabalala, ʼn ondersoekbeampte van die Hartbeespoort-polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood te bepaal. Geen vuilspel word egter vermoed nie.
Die kabelkarretjie in die dorp het onlangs weer oopgemaak nadat dit vir sewe jaar buite werking was.