
Robert Bouwer (40) het Maandagmiddag vermis geraak. Sy liggaam is Woensdagoggend gevind. Foto: Verskaf
Robert Bouwer (40) is Maandagmiddag laas gesien toe hy die besigheidsperseel omstreeks 15:00 verlaat het vir ʼn afspraak by ʼn oogkundige. Bouwer het egter nooit die afspraak nagekom nie en ook nie opgedaag om die besigheid te sluit nie. ʼn Woordvoerder van die Kempton Park polisiestasie, kapt. Jethro Mtshali, sê Bouwer se liggaam is Woensdagoggend langs die R21, naby die Serengeti-landgoed, buite Kempton Park gevind. Maroela Media het verneem dat Bouwer in sy motor doodgebrand het. Mtshali wou dit egter nie bevestig nie en sê meer besonderhede sal moontlik later Woensdag bekendgemaak word. Die polisie het intussen bekendgemaak hy ondersoek ‘n saak van moord.