‘Vermiste passasier’ ná PTA-busongeluk opgespoor

Foto’s: ER24

Een man is dood en sewe ander beseer ná ‘n ernstige busongeluk Saterdagoggend op die Ben Schoeman-snelweg in Pretoria.

“Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie, maar die bestuurder van die luukse bus het glo beheer oor die voertuig verloor en dit het die pad verlaat. Die bus het gerol. Alle passasiers is uit die bus geslinger,” het André Visser, woordvoerder van ER24, gesê.

Volgens paramedici het sewe mense, insluitend die busbestuurder, mediese behandeling benodig. Alle pasiënte is op die toneel behandel. Die paramedici wou die toneel verlaat om van die pasiënte na die hospitaal te neem, toe die toeroperateur hulle in kennis gestel het dat daar, volgens hul rekord, agt insittendes in die bus moes wees.

“Brand- en reddingspersoneel, insluitend ER24-paramedici het na die vermiste passasier begin soek. Die passasier is later onder die bus opgespoor,” het Visser bygevoeg. “Die man is vermoedelik uit die bus geslinger toe dit omgeval het en het oor die man gerol en bo-op hom tot stilstand gekom.” Die man is later op die toneel dood verklaar.

Plaaslike regeringsbeamptes het die toneel bygewoon en sal die oorsaak verder ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.