Vermiste vliegtuie se wrakstukke nie gevind nie

Die Suid-Afrikaanse maritieme en lugvaartsoek-en-reddingsentrum het berigte ontken dat die wrakstukke van twee Albatros-vliegtuie wat Sondag tussen Tzaneen en die Randse lughawe vermis geraak het, gevind is.

Die SAUK het vroeër berig dat die redakteur van die SA Flyer-tydskrif, Guy Leitch, gesê het die wrakstukke is gevind. ‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse maritieme en lugvaartsoek-en-reddingsentrum, Johnny Smith, sê hulle soek steeds na die vliegtuie. Die soektog is vroeër vandag afgelas weens gure weer, maar is later hervat. ‘n Helikopter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, met ‘n reddingspan van 10 mense, is deel van die soektog. Na berigte was daar tussen 12 en 14 mense aan boord toe die vliegtuie Sondag, na die Tzaneen lugskou, vertrek het. ʼn Reuse soektog is Sondagmiddag van stapel gestuur nadat die vliegtuie nie hulle bestemming bereik het nie. Volgens berigte is verskeie bekendes in die lugvaartbedryf en hulle gesinne, waaronder twee jong meisies, aan boord die vliegtuie. Volgens Smit is daar heelwat berge in die Tzaneen-omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.