Vermiste vliegtuig: Roudiens vir pa en seun gehou

Foto: Facebook

‘n Roudiens vir Bryan en Rob Simms, die pa en seun van Midrand, wie se vliegtuig op 28 Oktober oor Mosambiek vermis geraak het, is Vrydag by Rand-lughawe gehou.

Volgens die familie het Bryan altyd gesê dat, indien daar iets met hom moet gebeur, die roudiens nooit ‘n sombere geleentheid moet wees nie, maar eerder ‘n viering van sy lewe. “Dit is ‘n viering van twee merkwaardige mans en die ongelooflike impak wat hulle op die wêreld gehad het, deur net ‘n deel daarvan te wees. Die geleentheid om Bryan en Rob se lewens te vier was hartlik, ongelooflik en inspirerend. Baie dankie vir elkeen wat daar was – al was dit net in hul gedagtes,” het die familie ‘n op Facebook-blad, wat spesiaal vir die soektog opgestel is, gesê. “Ek weet dat mense regoor die wêreld ‘n glasie op dié twee merkwaardige mans se lewens geklink het. Bryan en Robert sal in ons harte voortleef.”

Vyf Harvard-vliegtuie het as ‘n finale vaarwel ‘n verbyvlug vir die skare uitgevoer.

Bryan en Robert het op 28 Oktober vermis geraak. Hulle het van Uganda na die Lanseria-lughawe gevlieg toe hulle oor Mosambiek vermis geraak het nadat hulle glo enjinprobleme ondervind het. Hul vliegtuig se wrak is 19 November, ná ‘n intense soektog, sowat 127km noord van Chomoio gevind. “Dit blyk dat die vliegtuig teen die grond vasgevlieg het en is heeltemal verwoes in die ongeluk,” het die familie in ‘n verklaring gesê.

Die betrokke owerhede sal ‘n ondersoek doen om die oorsaak van die ongeluk vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.