Die deur van ‘n klein vliegtuig in Amerika het in die lug losgekom, afgeval en op ‘n motel se dak beland.
Die Salinas Californian berig dat ‘n Beechcraft King Air-vliegtuig, wat Donderdagmiddag by Monterey-streekslughawe in Kalifornië opgestyg het, sy deur verloor het. Die vlieënier het ‘n knal gehoor en omgedraai om te gaan land. Hy het eers besef die deur is weg nadat hy geland het.
Die deur is egter eers Vrydagoggend opgespoor toe ‘n kontrakteur buite die motel dit opgemerk het. Volgens die ontvangsdame by die El Castell-motel het niemand gehoor toe die 34-kg deur op die teëldak geval het nie, omdat die kamer, wat reg onder die impak geleë is, onbeset was.
Die nasionale vervoerveiligheidsraad sal die deur en die vliegtuig ondersoek en bepaal waarom die deur losgekom het.