Vermiste wildbewaarders: Soektog duur voort

Een van die twee vermiste wildbewaarders se liggaam is Maandag opgespoor, het Ezemvelo KZN Wildlife gesê.

Musa Mntambo, woordvoerder, sê dit blyk of die bewaarder verdrink het. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van sy dood vas te stel. Die reddingspoging het die stilstaande water versteur en bemoeilik dus die sigbaarheid in die water. Die soektog in daardie gebied duur Dinsdagoggend voort. Die polisie het met hul helikopter oor die Nhlabane-meer gevlieg en ʼn spoorhond is ook ontbied. Volgens Mntambo word die tweede wildbewaarder steeds vermis.

Mbazwani Mhlongo (57) en Phumlani Mthembu (34) word sedert Vrydag vermis nadat hulle visnette en ʼn kano tydens patrollie by die reservaat opgespoor het. Mhlongo en Mthembu wou met die kano na die basiskamp terugvaar, aangesien dit te swaar sou wees om te dra, en twee van die ander bewaarders het teruggestap.

Mhlongo het in 1976 by Ezemvelo aangesluit en werk sedertdien by die Enseleni Natuurreservaat. Hy het in 2011 ʼn toekenning as die beste wildbewaarder ontvang. Hy is getroud met ses kinders.

Mthembu het in 1995 by Ezemvelo aangesluit. Hy is onlangs van die Hluhluwe iMfolozi-park na die Enseleni Natuurreservaat verplaas. Hy het een seun.

Ezemvelo wil nog nie die naam van die bewaarder, wie se liggaam gevind is, bekend maak nie, aangesien sy familie nog nie in kennis gestel is nie.

Die roeispaan is Sondag opgespoor en die kano is Maandag gewaar. Die soektog duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.