Vermoorde dominee se vrou kritiek ná aanval

Kritiek: Dorothea Brits. Foto’s: Facebook

Dorothea Brits, die vrou van vermoorde ds. Willem Brits wat Donderdagaand omstreeks 09:00 in hul huis in Harrismith deur rowers aangeval is, is in ‘n kritieke maar stabiele toestand in die intensiewesorgeenheid van die Mediclinic Bloemfontein. Ds Brits was die leeraar van die NG Kerkenberg in die Oos-Vrystaat.

Sersant Mmako Mophiring, ʼn woordvoerder van die Harrismith-polisie, het Vrydagoggend aan Maroela Media gesê  ds. Brits, sy vrou Dorothea, hul seun Martin, en hul dogter Thea se verloofde, Gerhardus Vermeulen, het  in die sitkamer televisie gekyk toe hulle deur drie rowers oorval is. Daar word vermoed dat ds. Brits en Dorothea met ʼn byl aangeval is. Ds. Brits en Dorothea is kritiek gewond. Gerhardus is op die toneel doodgeskiet.

Thea was glo buite die huis toe die voorval plaasgevind het en het die polisie ontbied. Martin is vasgebind en in ‘n bad met lopende krane geplaas. Hy kon egter daarin slaag om te ontsnap.

Ds. Brits en Dorothea is na die Hoogland Mediclinic in Bethlehem gehaas, waar ds. Brits vanoggend aan sy beserings beswyk het. Dorothea is vanoggend oorgeplaas na die Mediclinic Bloemfontein. Thea en Martin is ongedeerd.

Louise Zeelie, matrone van die Mediclinic Bloemfontein, het aan Maroela Media bevestig dat Dorothea kritiek maar stabiel is. “Sy gaan later vandag vir chirurgie,” het sy gesê.

Volgens Mophiring het die polisie reeds ʼn verdagte in hegtenis geneem. “ʼn Man van Kwaggafontein in Mpumalanga is op die N3-deurpad vasgetrek. Daar was bloed op sy klere en vyf selfone is in sy besit gevind, waarvan een aan ds. Brits behoort het. Dorothea se vuurwapen is ook in sy besit gevind. Die verdagte word nog ondervra. Die polisie soek steeds na die ander twee verdagtes.” Die polisie ondersoek sake van moord, huisroof en poging tot moord. Die verdagte sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Vermoor: Gerhardus Vermeulen.

Vermoor: Dominee Willem Brits.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Don Clifford ·

Moet ons maar net sit en sien dat die dinge kan aangaan en dan word ons uit gejou as rassiste ,Daar gaan oorlog wees as dit so aangaan , en wereld moenie kla nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.