Vermoorde SA-man se seuntjie word vermis

Oswald Heinrich Duval

Oswald Heinrich Duvel, die man wat in Thailand glo deur sy eksvrou vermoor is, se vervreemde vrou en die se broer is bekommerd oor die verdwyning van Duvel se driejarige seuntjie.

Duvel se jonger broer, Hercules Duvel (49), het Saterdag tydens ‘n perskonferensie gesê die polisie weet nie waar die seuntjie homself bevind nie, het die Bangkok Post berig. “Ons is besorg oor die welstand van sy seuntjie. Ons bid dat dit met hom goed gaan. Ons het aangebied om vir hom te sorg en in sy behoeftes te voorsien,” het Hercules gesê.

Duvel (50) se liggaam is verlede Sondag langs ‘n oop graf in Saraburi, noord van Bangkok, opgespoor. Hy is drie keer geskiet en het slegs sy onderbroek en horlosie aangehad.

Lt.gen. Nares Nanphathote, hoof van die polisie in Thailand, het gesê Duvel se eksvrou, Karachin Duvel, het erken dat sy hom vermoor het. Hercules het glo ook gesê dat hulle tans regsadvies inwin om die seuntjie aan te neem.

Duvel is in Piet Retief gebore en het daar grootgeword. Hy was glo met sy eksvrou in ‘n stryd gewikkel om toesig oor sy seuntjie te bekom. Duvel het glo vermis geraak nadat hy Saterdagoggend sy huis in Bangkok verlaat het om vir sy seuntjie by sy eksvrou se huis te gaan kuier. Duvel se eksvrou het glo aan hom gesê om saam met haar en haar ma in hulle Toyota Fortuner te sit sodat hulle oor die toesig van hulle seuntjie kan praat. ʼn Man, Surasith Pacchathepmonkol, het glo agter die sitplek in die Fortuner weggekruip en Duvel doodgeskiet nadat hulle begin praat het. Volgens berigte is die skieter die eksvrou se nuwe man terwyl ander berigte beweer hy is haar aangenome broer.

Hercules het die polisie in Thailand vir hul spoedige reaksie geprys, maar maan die media om die polisie die geleentheid te gun om die ondersoek af te handel en die aanklaer en die verdediging toe te laat om ‘n regverdige verhoor vir Oswald, sy seuntjie, sy familie en sy vriende voor te berei. “Sodoende sal geregtigheid geskied,” het Hercules bygevoeg.

Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het nog nie kommentaar gelewer of Duvel in staat was om Suid-Afrikaanse burgerskap vir sy seuntjie, wat in Thailand gebore is, te bekom nie.
Karachin Duvel, haar ma en Pacchathepmonkol is in hegtenis geneem en sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.