Vermoorde Tshwane-metropolisiebeampte: Grootskaalse soektog van stapel gestuur

‘n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur om ʼn groep mans op te spoor wat Donderdagoggend vir Piet van Bekkum, ʼn Tshwane-metropolisiebeampte, by ʼn winkelsentrum in die noorde van Pretoria doodgeskiet het.

Maroela Media het vroeër vandag berig die beampte is tydens ʼn rooftog by die Wonderpark-winkelsentrum doodgeskiet ná ʼn groep gewapende mans ʼn juwelierswinkel daar beroof het.

Volgens Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, was die metropolisiebeampte toevallig op die toneel. Volgens ʼn kollega het hy niksvermoedend op sy motorfiets by die sentrum gesit toe die mans van die toneel gevlug en hom van naby twee keer in sy bors geskiet het. Die rowers het sy vuurwapen gevat. Bekkum is op die toneel behandel en na ʼn hospitaal geneem waar hy omstreeks 12:30 aan sy wonde beswyk het. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Frikkie Naude, ʼn inwoner, het glo by die Ackermans uitgestap toe die skote reg voor hom geklap het. Hy het terug in die winkel in gevlug waarna hy nog drie skote gehoor het. “Na ʼn rukkie toe dit stil was, is ek uit die winkel en toe lê die beampte langs sy motorfiets,” het Naude gesê.

Bekkum se kollega het gesê hulle het 17 jaar lank saam gewerk en dat dit vir hulle baie hartseer en ʼn groot skok is. “Hy was een van die min ouens met integriteit in die metro, en sy sin vir humor sal gemis word,” het hy gesê.

Die polisie het intussen vasgestel dat die bakkie, ʼn swart Nevada waarin die rowers gevlug het, Woensdagaand in Hillbrow, Johannesburg, gesteel is. Die bakkie is later verlate gevind nadat dit glo in ʼn botsing betrokke was. Die rowers het vermoedelik in ‘n taxi met donker ruite na die middestad gevlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.