Veroordeelde verkragters los oor regter se “foute”

ʼn Vol bank regters van die appèlhof het die uitsprake en lewenslange vonnisse van twee veroordeelde verkragters in twee afsonderlike hofsake wat deur regter van Limpopo oorgelewer is, ter syde gestel.

Die appèlregters het in albei gevalle bevind dat “ernstige ongerymdhede” en “onkunde” aan die hand van regter K Hetisani, wat dié sake in die Thohoyandou-hooggeregshof aangehoor het, plaasgevind het, het Beeld Woensdag berig.

In die eerste geval is Tshifhiwa Nemavhola tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy glo ʼn 13-jarige meisie verkrag het. Die appèlregters het bevind dat Hetisani sy oordeel gefel het, sonder dat die staat sy saak behoorlik bewys het. Nemavhola het ook ʼn alibi gehad dat hy op die dag van die beweerde verkragting 170km ver van die misdaadtoneel by sy werk was. Hetisani het, sonder ’n almanak, uit sy kop bereken dat dit ’n Saterdag was en dat Nemavhola dus nie by die werk was nie. Die appèlregters het die datum op ʼn kalender nagegaan en gesien die betrokke dag was ʼn Woensdag.

In die tweede geval het Masotaha Tshilidzi skuldig gepleit op ʼn aanklag van onsedelike aanranding, maar skuld ontken op aanklag van verkragting. Die staatsaanklaer het dié pleit aanvaar. Hetisani het egter “’n ernstige ongerymdheid” gepleeg deur te weier om die pleit te aanvaar.

In altwee gevalle is beide gevangenes se vonnisse dadelik ter syde gestel.

Hetisani het intussen afgetree en kon nie vir kommentaar bereik word nie.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.