ʼn Verpleër wat daarvan verdink word dat hy ʼn sterwende parapleeg met kanker in ʼn staatshospitaal in Bloemfontein in Oktober 2011 verkrag het, het Dinsdag in die Vrystaatse landdroshof verskyn.
Magda Lombard (51) het ʼn maand ná die voorval in die Bloemfontein MediClinic gesterf, berig Beeld.
Volgens ʼn beëdigde verklaring wat die vrou voor haar afsterwe gemaak het, het Michael Moema (33) saam met ʼn ander verpleegster, Janette Kgoame, in haar kamer ingekom en haar seksueel aangerand.
Kgoame het Moema na bewering gehelp om Lombard reg te posisioneer sodat hy haar kon penetreer. Sy het ook later glo Lombard se mond met haar hande toegedruk sodat sy nie ʼn geluid maak nie.
Sy was tydens die voorval al vir ʼn jaar van haar middellyf ondertoe verlam. Sy sê in die verklaring, alhoewel sy niks kon voel nie, kon sy duidelik sien wat aangaan. Sy het die verpleërs uitgeken uit ʼn paar foto’s wat aan haar gewys is.
Die verhoor duur voort.
– Sapa