Verpleër wat glo pasiënt verkrag vandag weer in hof

Michael Moema. Foto: Mariné Jacobs/OFM

ʼn Verpleër wat daarvan verdink word dat hy in Oktober 2011 ʼn sterwende parapleeg met kanker in ʼn staatshospitaal in Bloemfontein in verkrag het, verskyn vandag weer in die Vrystaatse landdroshof.

Magda Lombard (51) het ʼn maand ná die voorval in die Bloemfontein MediClinic gesterf. Volgens ʼn beëdigde verklaring wat die vrou voor haar afsterwe gemaak het, het Michael Moema (33) saam met ʼn ander verpleegster, Janette Kgoame, in haar kamer ingekom en haar seksueel aangerand.

Kgoame het Moema na bewering gehelp om Lombard reg te posisioneer sodat hy haar kon penetreer. Sy het ook later glo Lombard se mond met haar hande toegedruk sodat sy nie ʼn geluid maak nie.

Sy was tydens die voorval al vir ʼn jaar van haar middellyf ondertoe verlam. Sy sê in die verklaring, alhoewel sy niks kon voel nie, kon sy duidelik sien wat aangaan. Sy het die verpleërs uitgeken uit ʼn paar foto’s wat aan haar gewys is.

Moema het gister ook in die hof verskyn, berig OFM. Johannes Raats,‘n kliniese assistent in onkologie, het toe getuig dat Lombard met tye nie korrek op die werklikheid gereageer het nie. “Sy het soms absurde goed kwytgeraak, maar haar verstandelike toestand was geensins vreemd vir iemand met so ‘n ernstige mediese toestand nie. Die medikasie wat sy vir haar toestand ontvang het moet ook in ag geneem word,” het hy gesê.

Die matrone wat aan diens was die nag na die beweerde verkragting, Dipuo Matobisa, het getuig dat Lombard daardie nag beweer het sy is weer verkrag.

Die saak duur vandag voort om die staat en verdediging geleentheid te gun om hul slotbetoë voor te berei. Moema is uit op borg.