Verregses steeds agter tralies

Vier mans wat glo beplan het om pres. Jacob Zuma te vermoor, is borgaansoek is Vrydag in die Bloemfonteinse landdroshof uitgestel.

“’n Besluit oor die aansoek sal op 23 Januarie uitgespreek word,” het kapt. Harry Nagel, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê.

Mark Trollip, Johan Prinsloo, Martin Keevy en Hein Boonzaaier word daarvan beskuldig dat hulle beplan het om ANC-leiers by die party se Mangaung-konferensie in Desember 2012 te vermoor. Tydens ‘n verskyning in die hof in Desember het staatsaanklaer Shaun Abrahams beweer die vier was deel van ‘n groep wat “Die Slag van Mangaung” beplan het om die land se leiers uit te wis. Dié groep, saam met ander mense, het glo sedert Januarie 2012 beplan om ‘n nuwe verregse party, die Boereparty, te stig en sabotasie-dade uit te voer.

Die Federale Vryheidsparty (FVP) het gesê hy is teleurgesteld dat geen uitspraak in die borgaansoek gefel is nie. “Die party is besorg oor hul gesondheid in die tronk en het dus gehoop dat hul borgaansoek toegestaan sou word,” het Francois Cloete, nasionale sekretaris van die party, in ‘n verklaring gesê. “Die party het ook gehoop dat die proses beëindig kon word vir die gesinne se onthalwe.”

Twee van die beskuldigdes, Boonzaaier en Prinsloo, was FVP-lede. Hul lidmaatskap is in Desember ná hul inhegtenisneming opgeskort. Boonzaaier was die party se president en Prinsloo die operasionele bestuurder. Cloete sê die party se uitvoerende lede het beëdigde verklarings afgelê en aan die paar se prokureurs oorhandig om hul saak te ondersteun. “Die raadslede het bevestig dat geen komplot by enige vergadering gesweer is nie en dat die Amerikaanse reis nie gebruik is om ‘n sogenaamde terreurplan te finansier nie, maar eerder om ondersteuning vir die wit minderheid in Suid-Afrika te bekom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.