“Verskeie skenkers het samesmelting gesoek” – Zille

Helen Zille

Helen Zille

Volgens Helen Zille, die leier van die DA, wou verskeie skenkers gehad het dat die DA en Agang SA saamsmelt om ʼn sterker mag teen die ANC te word, en nie net een “geheimsinnige internasionale skenker” soos wat in ʼn dagblad berig is nie.

“Ons het baie, baie skenkers, baie individue en kiesers wat dit wou gehad het,” het Zille aan Sapa gesê. “Baie wou weet hoekom ons nie saamsmelt met Agang SA nie. Die skenkers het gevra hoekom ons verskillende partye is.”

Sy het gesê talle skenkers het ʼn sterker opposisieparty gesoek om die ANC tydens vanjaar se algemene verkiesing aan te durf.

Zille het reageer op ʼn artikel wat die New Age publiseer het, waarin berig word dat ʼn “geheimsinnige internasionale skenker” die sleutelpunt van die twee partye se mislukte samesmelting was.

Die koerant het Mamphela Ramphele aangehaal waar sy glo gesê het een skenker het die DA en Agang SA laat saamkom.

Zille het vroeër aan John Robbie op Talk Radio 702 gesê sy sal nooit deel wees van so ‘n onderhandeling nie, maar het toe gesê sy weet wie die skenker was van wie Ramphele gepraat het.

“Wel, ek was beslis nie van plan om geld vir die samesmelting te oorweeg nie, dit is buite die kwessie,” het sy tydens die onderhoud gesê. “Jy weet ek sal dit nooit doen nie, ek raak nie by dié soort onderhandelings betrokke nie.”

Toe sy verder oor die skenker uitgevra is, en of sy die skenker ken, het sy gesê Robbie moet eerder vir Ramphele vra. “Ja ek weet wie die skenker is, maar ek dink nie dit is my werk om enigiemand te vertel nie.”

Zille het gesê die enigste rede hoekom sy die samesmelting wou laat plaasvind, is om die persepsies van Suid-Afrikaners te verander.

“Ek wou gehad het dat Ramphele as ons presidensiële kandidaat in die verkiesing staan om vir eens en vir altyd persepsies te verander dat die DA apartheid sal terugbring as ons aan bewind kom. Ramphele het my verlede jaar in November om hulp gevra, dis toe dat ons samesprekings heropen het. Sy was desperaat daarvoor. Sy het dit gedryf en gedruk dat ons dit so gou as moontlik moet bekend maak.”

Zille het Dinsdag op Twitter geskryf: “Dit was nie net een skenker wat druk op Mamphela geplaas het nie. Dit was elke skenker. Hulle soek ʼn sterker opposisie.”

Mmusi Maimane, die DA se woordvoerder, het gesê die verslag van die New Age was vergesog. “Geen skenker kan ons dwing om so ‘n besluit te maak nie. Daar was nog nooit en daar sal ook nooit een wees nie. ”

Andrew Gasnolar, Agang SA se hoofbedryfsbeampte, het ook die beweringe ontken. “Nee, daar is nie so ‘n skenker nie. Daar was geen transaksie nie. Daar was geen internasionale skenker verantwoordelik vir die beweerde transaksie nie,” het hy gesê.

Hy het egter bygevoeg dat daar baie Suid-Afrikaners was wat Agang SA aangemoedig het om saam met ander partye te werk om ʼn sterker opposisie teen die regerende party te wees.

Intussen het die ANC gesê die bewering dat die DA en Agang SA se samesmelting deur ʼn internasionale skenker gedryf was, is kommerwekkend.

Jackson Mthembu, die ANC se woordvoerder, het gesê dit wil voorkom of die partye onder skenkers se druk knak om finansieel te baat en dat ʼn internasionale skenker die partye voorskryf wat om te doen.

Die DA het verlede Dinsdag aangekondig Ramphele sou sy presidensiële kandidaat vir vanjaar se algemene verkiesings wees. Dit was egter van korte duur en groot verwarring het verlede Vrydag ontstaan ​​toe Ramphele gesê het dat sy nie ooreengekom het om ‘n DA-lid te word nie. Sondagaand het die DA aangekondig dat Ramphele nie hul ooreenkoms nagekom het nie.

Ramphele het Dinsdag in ʼn eksklusiewe onderhoud met Maroela Media gesê die aanvanklike ooreenkoms met die DA was nie samesmelting nie, maar samewerking en dat dié misverstand tot die vertrouensbreuk gelei het. Klik hier om die berig te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.