Verslag oor olie-vir-kos-skandaal bekendgemaak

Die Donen-kommissie se verslag oor die sogenaamde Oilgate-skandaal het bevind dat niemand wat by die ondersoek betrek is, enige Suid-Afrikaanse wet oortree het nie.

“Dit moet beklemtoon word dat die Donen-verslag nie enige finale bevindings maak ten opsigte van die genoemde individue se gedrag en die impak daarvan op die Verenigde Nasies se resolusies en beleid nie,” het die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj, Woensdag gesê. President Jacob Zuma het vroeër vandag die verslag bekendgemaak. Die kommissie is op 17 Februarie 2006 op die been gebring deur oud-president, Thabo Mbeki, om die beweerde onwettige aktiwiteite van sekere Suid-Afrikaanse maatskappye en individue te ondersoek rakende die Irakse kos-vir-olie-skandaal. Die skema het bepaal dat Irak slegs olie in ruil vir kos kon “verkoop”.

Die ondersoek is van stapel gestuur na ʼn verslag deur die VN waarin plaaslike maatskappye uitgewys is wat ʼn VN-verbod op direkte handel met Irak geminag het. Vier Suid-Afrikaanse maatskappye was onder die meer as twee duisend buitelandse maatskappye wat glo onregmatige betalings aan oud-president Saddam Hoesein se regime gemaak het. Die betalings is glo gemaak ten einde olie te bekom. Die verslag het egter na voltooiing ʼn stille dood gesterf voor Zuma verlede maand aangekondig het dat hy die verslag gaan bekendmaak. Die verslag het onder meer gesê dat drie persone wat deur die media “uitgewys is” – adjunk-president Kgalema Motlanthe, die minister van huisvesting Tokyo Sexwale en die direkteur-generaal van minerale en energie Sandile Nogxina – nie deel uitgemaak het van die kommissie se ondersoek nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.