Verslag: Plaasmoorde moet nóú as prioriteitsmisdaad verklaar word

Die vakbond Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) het vandag ‘n verslag oor plaasmoorde en -aanvalle beskikbaar gestel.

“Plaasmoorde en -aanvalle moet as die nasionale krisis wat dit is erken word en dus prioriteitsstatus en doelgerigte aandag geniet,” is maar een van die aanbevelings wat in die verslag gemaak word. Die verslag is deel van ʼn nasionale veldtog teen plaasmoorde deur die Solidariteit Beweging, wat die SNI, die vakbond Solidariteit, AfriForum en Kraal Uitgewers insluit.

Die verslag handel oor onderwerpe soos: die aard en omvang van plaasaanvalle, die vlakke van geweld tydens plaasaanvalle asook die sielkundige uitwerking daarvan op slagoffers. Volgens Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, moet plaasaanvalle en plaasmoorde tot ʼn prioriteitsmisdaad verklaar word. “Die regering weier om plaasmoorde, in die besonder, tot ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar, omdat dit, wat die regering betref, slegs ʼn deel van die breër moordkategorie uitmaak. Dit is onaanvaarbaar en onverantwoordelik,” sê Hermann.

Hermann se kommer word weerspieël deur verskeie kenners wat by die opstel van die verslag betrokke was. “Dit is duidelik dat die regering nie meer die voortgesette aanvalle op plase en die moorde van mense wat by die boeregemeenskap betrokke is, as ʼn prioriteit sien nie,” sê dr. Johan Burger, senior navorser aan die Instituut vir Sekerheidstudies, in die verslag se inleiding. “Die strategiese en operasionele reaksie op die gevaar van plaasaanvalle en -moorde is duidelik nie gebaseer op die erkenning dat die boergemeenskap disproporsioneel geteiken word as hulle risiko met die van ander burgers of groepe in Suid-Afrika vergelyk word nie.”

Volgens prof. Christiaan Bezuidenhout, professor in kriminologie aan die Universiteit van Pretoria, is dit duidelik dat Suid-Afrika sukkel om geweldsmisdaad in die algemeen en plaasaanvalle in die besonder te bekamp. “Ek is onder die indruk dat die huidige regering nie die rampspoedige enigma van boere onder beleg ernstig genoeg opneem nie. Hulle maak boere die buitestaander pleks van die voorsiener van die nasie.” Lorraine Claasen, ʼn kriminoloog, sê dat dit onrusbarend is dat plaasaanvalle steeds nie die aandag geniet wat dit verdien nie, ten spyte daarvan dat angswekkende besonderhede duidelik word na die besonderhede van slegs ʼn paar plaasaanvale gelees word – daar is rekords van duisende aanvalle. “Geen mens verdien om op so ʼn onmenslike, ongeregverdigde en wreedaardige manier vermoor te word nie. Hoekom word dit toegelaat?”

AfriForum, die beweging se burgerregte-organisasie, het in Oktober memorandums oor plaasmoorde aan 110 ambassades en internasionale institute versprei om internasionale bewustheid oor die krisis te skep. Volgens Nantes Kelder, hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, is die stigting van plaaslike gemeenskapsveiligheidsnetwerke die mees praktiese stap wat ʼn gemeenskap kan neem om die hoeveelheid misdaad in hulle gebied drasties te laat afneem. Dit is ʼn wettige manier waardeur gemeenskappe die inisiatief om hul eie veiligheid te verbeter, kan neem.

Deel van: Gedoriewaar, Hoofnuus, Nuus, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.