Verstandelik gestremde man deur vloedwater meegesleur

Die foto is Woensdag deur Arrive Alive op Twitter gelaai terwyl die N1-snelweg gesluit was naby Laingsburg.

Die foto is Woensdag deur Arrive Alive op Twitter gelaai terwyl die N1-snelweg gesluit was naby Laingsburg.

Beamptes van die Wes-Kaapse rampbeheersentrum is op soek na die liggaam van ʼn verstandelik gestremde man wat Dinsdag deur vloedwater in die Langeberg-omgewing meegesleur is.

Colin Deiner, ʼn woordvoerder, het Woensdag gesê die man word steeds vermis, en dat geen verdere inligting beskikbaar is nie.

Gedeeltes van die Wes-Kaap word sedert Maandag deur swaar reën geteister. Naby Laingsburg moes gedeeltes van die N1-snelweg gesluit word weens vloede. Verkeer op verskeie hoofroetes is ook erg beïnvloed.

“Die watervlak van riviere styg en mense moet dit as gevaarlik beskou. Die N1 sal ook weer gesluit word as ʼn voorsorgmaatreël,” het Deiner gesê.

Daar is berigte van huise wat oorstroom is in die Breederiviervallei, Laingsburg, Hessequa en George. Verskeie plase is ook afgesonder weens die reën.

Sommige regeringsdepartemente het beamptes gestuur om riviere en gebiede wat deur vloede geraak is, te monitor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.