Verstommende verwikkelinge in 13-jaaroue moordsaak

Cranks-restaurant in Rosebank Mall wat onlangs gesluit het

Die bestuur van Rosebank Mall in Johannesburg wou nie Donderdag kommentaar lewer oor die omstandighede wat daartoe gelei het dat die bekende Thai-restaurant, Cranks, toegemaak het nie.

Die restaurant sal glo ʼn sleuteldeel van die hofsaak van ʼn 13-jaaroue moord uitmaak, berig EWN. Ses mans is vroeër in hegtenis geneem nadat ʼn skulderkentenisbrief onder ʼn mat in ʼn huis in Kenilworth, suid van Johannesburg, opgespoor is.

Die polisie glo Betty Ketani is vermoor om seker te maak dat sy nie iets sal sê nie. Ketani het glo by die restaurant gewerk en daar was glo ʼn argument oor salarisbetalings. Die gewilde restaurant het verlede week Maandag gesluit ná die nuus dat ses mans in verband met die moord op Ketani in hegtenis geneem is. Alhoewel nuusberigte verlede jaar aangedui het dat die eienaar van voornemens was om na Thailand te verhuis, blyk die tydsberekening verdag te wees.

Die bestuur van die winkelsentrum wou nie sê of Cranks enige uitstaande huurskuld het nie, en het slegs gesê dat die restaurant nie sy huurkontrak hernieu het nie.

Betty Ketani se identiteitsdokument

Die borgaansoek van drie van die verdagtes is Woensdag uitgestel ná ʼn geheime ooggetuie vorendag gekom het. Die saak sal volgende week voortgaan.

Die aankondiging Woensdag van die geheime ooggetuie het daartoe gelei dat die borgaansoeke in die saak uitgestel is. Herman Broodryk, adjunk-direkteur van openbare vervolging by die Suid-Gautengse hooggeregshof, het Woensdag aangedui dat hy laat Dinsdagmiddag nuwe inligting ontvang het. Weens die mediadekking van die saak het daar glo nuwe bewyse aan die lig gekom wat die aangeklaagdes direk by die saak betrek. Dié inligting sal glo die uitkoms van die borgaansoeke dramaties beïnvloed.

Twee van die verdagtes is reeds op borgtog vrygelaat, en ʼn derde het sy borgaansoek, sonder enige rede, laat vaar. Die identiteit van die getuie word vir die oomblik geheim gehou, maar die staat behoort teen Vrydag meer inligting aan die verdediging te verskaf rondom die aard van die jongste bewyse.

Lees vorige berigte oor dié saak in volgorde:
24 Mei 2012
25 Mei 2012
26 Mei 2012
29 Mei 2012
11 Junie 2012

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.