Verwaarloosde perd ‘Zulu’ sterf

Zulu by die Wetnose-dierereddingskuiling. (Foto: Facebook via @WetnoseARC)

Zulu, die perd wat verlede jaar by die dood omgedraai het ná hy langs ʼn grondpad oos van Pretoria gelos is, is die afgelope naweek aan akute hartversaking dood.

Maroela Media het vroeër berig dat die bejaarde perd verlede Junie in die gras langs ʼn grondpad in die gebied aangetref is ná hy van ʼn sleepwa af getrek is. Die Wetnose-dierereddingskuiling in Bronkhorstspruit het sy beserings behandel en hom toegegooi onder liefde.

Dié dierereddingskuiling het egter Dinsdag Zulu se afsterwe in ʼn emosionele Facebook-plasing aangekondig.

“Zulu het hard geveg om sy beproewings, asook die jare lange mishandeling en verwaarlosing te oorkom,” lui die plasing.

“Ons het toegekyk hoe hy getransformeer is van ʼn hartseer ou perd wat wou moed opgee na ʼn Zoeloevegter wat wil oorleef. Dag ná dag het ons hom op sy voete gehelp en alles moontlik gedoen om hom sterker te maak totdat hy weer soos ʼn jongeling begin speel het.

Die Wetnose-span het Zulu verlede Junie langs ʼn grondpad gevind. (Foto: Facebook via @WetnoseARC)

“Daardie soort verwaarlosing eis egter sy tol op die liggaam en dit was vir hom net te veel. Wetnose sal nooit weer dieselfde wees sonder hom nie.”

Meer as ses maande ná die voorval wat Zulu by Wetnose laat beland het, was hy in Januarie vanjaar reg vir ʼn nuwe begin by ʼn permanente tuiste. Zulu is egter nie aangeneem voor sy dood nie, maar was andersins dolgelukkig by die Wetnose-dierereddingskuiling.

“Die enigste troos wat ons het, is dat ons hom ʼn gelukkige aftrede kon gee ná sy andersins harde lewe. Ons hoop dat die groen weivelde van die perdehemel die plek sal wees waar hy kan hardloop en speel en weer ʼn jong gesonde perd kan wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Helene ·

RIV Zulu. Ek is so bly dat jy in jou laaste Paar maande met liefde toegevou was. Nog steeds Baie hartseer einde!!

Trotse Boervrou ·

Ai, mense kan so wreed wees. Die vraag bly altyd, waarom? Waarom diere, en (vir wat ‘n mens se lewe deesdae werd is) mense ook, mishandel? Hierdie is ‘n bitter-soet verhaal. Dankie, ons salueer jul onbaatsugtige diens wat jul lewer. Dankie dat jul Zulu onder jul vlerk geneem het en dat sy laaste tydjie op aarde gelukkig kon wees.

JohanR ·

Daar is ‘n plek nog verby die HEL, vir mense wat diere mishandel!

Sandra ·

Zulu, ek het al gisteraand oor jou gehuil. My hart nou nog seer. Jy was darem ‘n prins van ‘n perd wat jy al jou lewe moes gewees het in die tyd wat jy by Wet nose was. Mag jy in vrede rus, en lekker daarbo met jou pragtige lyf lekker rondhardloop. Die mense wat dit aan jou gedoen het, se lot is in Sy hande. Hy sal nie dat hulle wegkom daarmee nie, al dink hulle wel dat hulle het. Liefde en groete

Wessel ·

In die sestiger jare het was my pa betrokke by die DBV in Vereeniging waar hulle ook so merrie wat verwaarloos en uitgeteer was in die veld gekry naby Sharpville. Kon ook nie opstaan nie en moes opgehelp word. Gelukkig was sy nog jonk en was toe afgerig as ‘n sulky perd en was een jaar die sulky perd kampioen by die Vaal skou gewees. Ek haal my hoed af vir die deursettings vermoeë van die mense by Wetnose want ek weet watse harde werk dit is om so dier weer reg te kry, verg baie geduld.

johanf ·

Net een woord vir die wat hom so mishandel het, SIES…..!!!
Hartseer, dankie Wetnose, trots op julle….

Rudolph ·

Die perdebedryf van A-Z word gekenmerk deur mishandeling. Daar is eenvoudig nie ‘n gelukkige einde vir enige dier waarvan mense ‘n kommoditeit gemaak het nie. Soek op Youtube vir ‘dierevriendelik’ en kry die feite hieroor

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.