Verwesenliking van menseregte neem af sedert 2010 – Solidariteit-barometer

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se tweede menseregtebarometer wat vandag, Internasionale Menseregtedag, bekendgemaak is, stel dit duidelik dat Suid-Afrika sukkel om die menseregte van sy burgers te verwesenlik. Die verwesenliking van menseregte het, soos deur die meseregtebarometer gemeet, van ’n vlak van 51,8% in 2010 tot 48,3% in 2012 verswak.

Die menseregtebarometer fokus op al die verskanste siviele, politieke en maatskaplik-ekonomiese regte in die Handves van Menseregte en werp lig op kontroversiële menseregteskendings, soos die skending van Suid-Afrikaners se reg op lewe, veiligheid en sekuriteit, gelykheid en onderwys. Johan Kruger, hoof van die SNI, sê sedert die bekendstelling van die eerste menseregtebarometer in 2010 het ’n effense verswakking in die verwesenliking van menseregte in Suid-Afrika plaasgevind. “Een van die ernstigste menseregteskendings is steeds die skending van Suid-Afrikaners se reg op lewe. Volgens die nuutste misdaadstatistiek word nagenoeg 43 mense per dag vermoor. Die lae koers van skuldigbevindings ten opsigte van geweldsmisdaad is ’n verdere bewys dat die regering nie genoeg waarde aan die reg op lewe heg nie.”

Volgens Kruger word Suid-Afrikaners se reg op gelykheid ook ernstig geskend. “Die reg op gelykheid, spesifiek rasse- en geslagsgelykheid, was die afgelope paar dekades ’n omstrede kwessie in Suid-Afrika. Hoewel regstellende aksie veronderstel is om onregverdighede van die verlede op ’n tydelike grondslag reg te stel, het dit in Suid-Afrika ’n permanente beleid van die huidige regering geword en dit gaan nie in die nabye toekoms opgehef word nie. Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) moet regstellende aksie tydelik van aard wees. Die regering verwag egter dat die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël moet word. Luidens statistiek neem groei onder swart Afrikane as bevolkingsgroep toe terwyl groei onder wit mense, bruin mense en Indiërs ’n bestendige neiging toon. Indien die regering dus voortgaan om regstellende aksie op hierdie manier te implementeer, sal regstellende aksie nooit tot ’n einde kom nie, wat strydig is met die internasionale norm. Armoede, werkloosheid en swak dienslewering ontneem baie Suid-Afrikaners verder van hul reg op volle en gelyke benutting van alle menseregte en vryhede.”

Kruger sê die afgelope jaar se krisisse in die onderwys, waaronder die handboekkrisis in Limpopo, word in die menseregtebarometer weerspieël. “Hoewel Suid-Afrika in 2011 ’n matriekslaagsyfer van 70,2% aangeteken het en toegang tot onderwys aansienlik verbeter het, bly die gehalte van onderwys ’n groot probleem. Die matriekslaagsyfer verberg egter ook ’n aantal kommerwekkende tendense, soos minder leerders wat Wiskunde en Wetenskap neem. Daarby  het slegs 53,7% van leerders wat in 2000 met graad 1 begin het, graad 12 voltooi.”

Volgens die nuutste menseregtebarometer is die reg op vryheid van godsdiens, oortuiging en mening, vryheid van assosiasie, burgerskap en vryheid van beweging en verblyf van die regte wat nie tans bedreig word nie.

Vir die volledige menseregtebarometer, kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.