Vet mans meer waarskynlik slagoffers van prostaatkanker

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: iStock)

Elke 10 cm om ʼn man se middel verhoog sy risiko met 7% om aan prostaatkanker te sterf. Dít volgens ʼn nuwe studie wat die moontlike verband tussen vetsug en dié siekte ondersoek het.

Prostaatkanker is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die tweede mees algemeen gediagnoseerde kankersoort by mans en die vierde mees algemene in die geheel. Die verband tussen ʼn man se gewig en dié kanker is egter nog onduidelik.

Om ʼn beter idee te kry oor die risiko wat oorgewig mans loop, het navorsers al die relevante studies wat tot dusver oor die onderwerp verskyn het, asook nuwe data oor meer as 200 000 mans in Brittanje bestudeer. Die jongste studie is in die vaktydskrif BMC Medicine gepubliseer.

Met elke vyfpunt-verhoging in ʼn man se liggaamsmassa-indeks (LMI) styg sy risiko om aan prostaatkanker dood te gaan met 10%.

Volgens Aurora Perez-Cornago, voedingsepidemioloog aan die Universiteit van Oxford wat die navorsing gelei het, sal daar in Brittanje 1 300 minder sterftes weens kanker wees as mans daarin slaag om hul LMI te verlaag.

“Die sleutelboodskap is: asseblief, mans, handhaaf ʼn gesonde gewig,” het sy gesê.

Vorige navorsing het voorgestel dat die vet om ʼn man se maag ʼn groter aanduiding vir aggressiewe prostaatkanker kan wees, eerder as ʼn man se algehele gewig.

Perez-Cornago meen egter dit blyk nie soveel saak te maak waar die vet geleë is nie.

Hoewel dit steeds nie duidelik is of vetsug ʼn direkte verwantskap met mans se prostaatkankerdiagnose inhou nie, is Perez-Cornago tans besig met navorsing hieroor.

“Tot op hede weet ons nie of dit ʼn verwantskap inhou nie, want dit is ook moontlik dat mans met vetsug eers in ʼn latere stadium met prostaatkanker gediagnoseer kan word,” sê sy.

“As hulle in ʼn latere stadium gediagnoseer word, is die gewas waarskynlik meer aggressief en hulle sal minder geneig wees om te oorleef.”

Perez-Cornago voer aan dat daar verskeie redes is waarom prostaatkanker dikwels later by oorgewig mans opgespoor word, waaronder dat hulle minder gesondheidsbewus kan wees.

“As hulle byvoorbeeld snags meer gereeld na die toilet begin gaan – ʼn klassieke simptoom van prostaatkanker – kan hulle minder geneig wees om na ʼn huisdokter te gaan.”

Selfs as hulle daarvoor getoets is, is die uitslag minder geneig om die molekule wat kanker aandui, aan te toon omdat mans wat oorgewig is meer bloed het, wat die monster verdun.

Die studie, wat deur Cancer Research UK gefinansier is, is onlangs by die Europese Kongres oor Vetsug in Nederland aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Henri ·

Vetsug lei tot veelvoudige mediese komplikasies. Hierdie is waarskynlik maar net nog een.

Samuel ·

Prostaatkanker gediagnoseer lank voor sg oorgewig. Baie redes vir hierdie soort kanker.

Julius ·

Jy weet mos by die tyd dat wetenskaplikes en kenners lieg. Ek het een vriend verloor en ‘n ander een het herstel van prostaat kanker en altwee was onder gewig.

JohanR ·

John Steenhuizen van die DA is vinnig op pad, en Floyd Shivambu van die EFF is al lankal daar. Die lewe is te lekker vir ‘n politikus!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.